Die no Afrikaans, English only is baie opsetlik, meen die Afrikaanse Taalraad (ATR). Die Universiteit Stellenbosch hou vanoggend ’n vergadering oor die bewerings wat gister deur die Demokratiese Alliansie (DA) geopper is.

Dr. Conrad Steenkamp, hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR), het sy teleurstelling uitgespreek oor die skynbare herhaling van verlede jaar se taalprobleme gedurende die Universiteit Stellenbosch se verwelkomingsweek vir studente. 

AfriNUUS het gister meer hieroor berig.

“Dit verbluf om te hoor dat Afrikaanse studente, veral in koshuise, al wéér verbied word om in hulle moedertaal met mekaar te praat.”

“Die herhaalde verbod op moedertaalkommunikasie laat Afrikaanse studente—bruin, swart, en wit—ontuis aan die US voel. Dit het ook kommerwekkende gevolge vir verhoudings tussen studente met verskillende agtergronde. Taaldwang skep ’n klimaat van verwydering, eerder as om studente nader aan mekaar bring.”

“Die afdwing van slegs Engels is strydig met die US se eie taalbeleid asook met studente se grondwetlike regte. Ons eis dus dat die US vinnig en daadwerklik optree om hulle taalbeleid in koshuise af te dwing en om studente se taalregte te beskerm. Ons eis ook dat die Menseregtekommissie (MRK) die kwessie weereens ondersoek en dat hulle hulle gevolgtrekkings bekend maak.”

“Die US se reaksie (DB 13 2) dat dit waarskynlik net gaan om ‘misverstande’ of ‘versoeke’ eerder as ’n verbod op Afrikaans, oortuig nie. Daarvoor is die studentevereniging Studenteplein (SP) se bewyse van hernude taaldiskriminasie, intimidasie en mikro-aggressie teenoor Afrikaanse studente eenvoudig net te sterk. Die Taalraad kon ook self maklik bevestig dat, byvoorbeeld Minerva-koshuis, min of meer dieselfde doen as in 2022. Afrikaans word in alle  kommunale ruimtes verbied.

“Die herhaling van 2022 se gebeure, ten spyte van die US se destydse versekering dat studenteleiers die taalbeleid bloot verkeerd verstaan het, laat dit lyk asof die universiteit sukkel om sy eie beleid te implementeer,” sê Steenkamp. “Hoe kan studenteleiers na alles wat gebeur het nog steeds ‘verward’ wees oor die US se taalbeleid en studente se taalregte?”

“Nee, die no Afrikaans, English only is baie opsetlik. Dit begin nou eerder lyk asof die studenteleiers die US se taalbeleid en die Grondwet willens en wetens oortree. Ons vereis dus dat daar hierdie keer duidelike gevolge vir die oortreders moet wees. Hulle is immers reeds gewaarsku.”

’n Ernstige denkskuif en ’n nuwe benadering is nodig om die US se ‘meertaligheid’ in ’n inklusiewe rigting te beweeg. Dit bly byvoorbeeld problematies dat die ‘amptelike taal’ van koshuis- en studentevergaderings Engels is, selfs al word die gebruik van ander tale ‘toegelaat’. 

Hierdie praktyk bevorder nie meertaligheid nie, maar eerder die hegemonie van Engels.”

Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch, het aan AfriNUUS bevestig dat die universiteit vanoggend in die verband vergader.

LEES OOK: