Die Valke se nasionale prioriteitsgeweldsmisdaadondersoekspan (NPVC) het ’n verdagte in verband met die moord op sers. Sithembiso Mnatwana in hegtenis geneem. Die polisiebeampte wat aan die Kaapstad-Sentraal-polisiestasie verbonde was, is op 8 September 2022 voor sy woning by Samora Machell doodgeskiet.

Die saak is aan die NPVC-span van die Valke toegewys en hul verdere ondersoek het aan die lig gebring dat Babalwa Rulwa-Mnatwana (49), wat getroud is met die oorledene se broer, na bewering ’n huurmoordenaar gehuur het om die polisiebeampte te vermoor.

Die motief van die moord is ’n onderwerp van die Valke se ondersoek.

’n Lasbrief vir arrestasie is teen Rulwa-Mnatwana uitgereik en sy is op Vrydag, 10 Februarie 2023, in hegtenis geneem. 

Sy het dieselfde dag van haar inhegtenisneming in die Athlone-landdroshof verskyn. Sy sal op 16 Februarie 2023 weer in die hof wees vir ’n formele borgtogaansoek. Sy bly in aanhouding.

Die vermeende huurmoordenaar moet nog in hegtenis geneem word.