Die Amerikaanse speurdiens (FBI) deursoek tans die voormalige Amerikaanse visepresident, Mike Pence, se huis in Indiana vir geklassifiseerde materiaal.

Dit volg op die onthullings deur Pence se prokureurs dat hulle verlede maand ’n aantal geklassifiseerde lêers van sy huis gevind het.

Die Amerikaanse departement van justisie het nog nie bevestig dat Vrydag se soektog verband hou met sy geklassifiseerde lêerondersoek nie.

Geklassifiseerde rekords is veronderstel om na die Nasionale Argief te gaan sodra ’n administrasiekantoor verlaat word.

Mense wat vertroud is met die saak het aan CBS News gesê die soektog was verwelkom deur Pence en daar was geen federale lasbrief nie.

Die soektog word deur FBI-agente gedoen en is tans nie gekoppel aan ander ondersoeke na geklassifiseerde lêers nie, het CBS berig.

Dit is die jongste ontwikkeling in ’n groeiende kontroversie oor geklassifiseerde dokumente wat beide voormalige president Donald Trump en die huidige president Joe Biden reeds betrek het.

Trump staar ’n kriminele ondersoek in die gesig weens die beweerde wanhantering van geklassifiseerde dokumente, terwyl Biden ’n ondersoek deur die Amerikaanse departement van justisie in die gesig staar.

  • BBC, CBS