Dylan Georgiades, ’n student aan die Universiteit Stellenbosch, is vanoggend in die vroeë oggendure doodgery.

Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het aan AfriNUUS bevestig dat dié 20-jarige Saterdagoggend om 00:30 in ’n ongeluk betrokke was.

Hy is na ’n hospitaal oorgeplaas, maar het aan sy beserings beswyk.

Volgens van Wyk word ’n saak van strafbare manslag ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Tyger Valley College (TVC) het in ’n verklaring gesê dat dit met groot hartseer verneem het van die afsterwe van Georgiades, seun van Patrick en Dianne, en hoofseun van TVC in 2021. 

“Dylan se heengaan is verwoestend en sal ons gemeenskap swaar tref,” lui ’n Facebook-plasing.

Foto: Tyger Valley College / Facebook

Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch, het in ’n verklaring gesê dat die universiteit met skok en hartseer verneem het dat ’n tweedejaar BCom-student van Pretoria, Dylan Georgiades, oorlede is.  

“Die student is vanoggend (11 Februarie) oorlede nadat hy Vrydagaand (10 Februarie) in Merrimanlaan in Stellenbosch deur ’n motor omgery is.”

Prof Deresh Ramjugernath, Adjunk Visekanselier vir Leer en Onderrig, was in kontak met die student se familie om die Universiteit se meegevoel te betuig, terwyl senior personeel van Studentesake ook die naweek in kontak was met die student se familie om ondersteuning te bied waar nodig.

“Ons harte gaan uit na die vriende en familie van die student,” sê prof Ramjugernath.  

“Die dood van ’n student is altyd moeilik vir die universiteitsgemeenskap en des te meer hartseer aangesien studente op die punt staan ​​om Maandag met klasse te begin.”

Foto: Dylan Georgiades / Facebook

Hy het bygevoeg dat daar waardering is vir die ondersteuning wat van die nooddienste ontvang word, insluitend dienste wat deur die Stellenbosch Hospitaal en Mediclinic Vergelegen, en die bystand wat deur die Universiteit se Kampussekuriteit, gelewer word.

Enige student wat berading benodig word aangemoedig om die 24-uur Krisisnommer te kontak (by 0102053032 na-ure, en 021 808 4994 gedurende kantoorure).

Die Universiteit bied volle ondersteuning aan SAPD wat die omstandighede rondom die student se dood ondersoek.  

Die Universiteitsgemeenskap word versoek om die privaatheid van die betrokkenes te respekteer en om nie op sosiale media oor die aangeleentheid te spekuleer nie.

Enigiemand met meer inligting oor die voorval word versoek om die Stellenbosch SAPD te kontak by 021 809 5000.