“Total(e) waansin”: Vissers gekant teen TotalEnergies wat nou gas en olie uit die see tussen Mosselbaai en Kaap St. Francis wil pomp
TotalEnergies beplan om olie en gas tussen Mosselbaai in die Suid-Kaap en Kaap St. Francis in die Oos-Kaap uit te see te pomp.
Deur Joseph Chirume (GroundUp)
Sowat 30 aktiviste en vissers onder leiding van die Oos-Kaapse omgewingsnetwerk en Earthlife Africa het Woensdag buite TotalEnergies in KwaDwesi, Gqeberha, betoog. Hulle wil nie hê die regering moet die maatskappy ’n lisensie vir die ontginning van olie en gas tussen Mosselbaai en Kaap St. Francis toestaan nie.
Die betoging het by die Total-diensstasie by die Ziyabuya-winkelsentrum begin. Die betogers het gesing en pamflette uitgedeel, en ook aan verbygaande motoriste op die R75-pad groot baniere gewys wat lees: “Gasproduksie langs ons kus. Totale waansin” en “Hamba Voetsek”.
In ’n mediaverklaring het hulle ’n beroep op Barbara Creecey, Minister van Omgewing, Bosbou en Visserye gedoen om haar magte te gebruik om TotalEnergies te stop en aan te dring op ’n volledige risikobepaling van die impak daarvan op die seelewe.
Hulle het gesê waar gas- en oliebronne ontgin word, is daar sewe beskermde mariene gebiede.
Melikaya Blani, van die Oos-Kaapse omgewingsforum, het gesê boorwerk sal vissers en mense wat van die see afhanklik is vir oorlewing negatief raak.
“Daar is geen werk om vir ons mense te skep bloot omdat TotalEnergies hoogs ervare werknemers sal bring nie. Oliebore gebruik vaardige mense. Mense in ons gemeenskappe sal in die koue gelaat word omdat hulle nie die vaardighede het om daar te werk nie,” het Blani gesê.
Nomonde Botomani, van Missionvale, het gesê: “My man verdien sy geld uit visvang. Alhoewel hul bedrywighede merkwaardig uitgeput is as gevolg van klimaatsverandering en stropery, sal die ontginning van olie en gas ons lewens erg affekteer.”
’n Antwoord van TotalEnergies sal bygevoeg word wanneer dit ontvang word.