Talle beseer nadat bakkie omslaan in Diepsloot
Vanoggend is ongeveer sewe mense beseer toe die bakkie waarin hulle gery het van die R114-pad in Diepsloot afgerol het.
ER24, Life Healthcare en ander nooddienste het om 07h40 op die toneel aangekom om ’n bakkie regop – ’n ent van die pad af – te vind. Verskeie mense is rondom die voertuig gevind.
Medici het die beseerdes beoordeel en gevind dat twee in ’n kritieke toestand was terwyl verskeie ander ligte tot ernstige beserings opgedoen het.
Die beseerdes is behandel, en die kritiek beseerdes is van gevorderde lewensondersteunende intervensies voorsien voordat hulle na nabygeleë hospitale vervoer is vir verdere sorg.
Plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoek.