Polisieman gevonnis wat vrou in aanhoudingsel “vir seks vra in ruil vir vrylating”
Die Richardsbaai-streekhof het polisiesersant, Philani Praiselord Mkhwanazi (43), tot effektiewe 10 jaar gevangenisstraf gevonnis ná sy skuldigbevinding aan verkragting en korrupsie.
In November 2020 is ’n 32-jarige klaer vir winkeldiefstal gearresteer en na die Esikhaleni-polisiestasie geneem waar sy aangehou is saam met ’n ander vrou wat vir dieselfde oortreding in hegtenis geneem is.
Mkhwanazi het die klaer in ’n stadium uit die sel en na ’n ander kamer geskuif. Daar het hy haar vir seks gevra in ruil vir haar vrylating. Sy het toestemming gegee met die verstandhouding dat sy vrygelaat sou word. Toe hulle klaar was, het Mkhwanazi haar egter nie vrygelaat nie, maar eerder na die sel terugbesorg. Sy het toe die voorval by haar selmaat aangemeld en nog ’n polisiebeampte by daardie stasie en bewyse is ingesamel.
Tydens die hofsaak het streekhofaanklaer Jomo Ngcobo die getuienis gelei van die klaer, die ander vrou en die polisiebeampte wat die verklaring afgeneem en die saak geopen het.
Ter verswaring van vonnis het Jomo ’n Slagofferimpakverklaring ingedien wat deur die klaer saamgestel is en deur Hofvoorbereidingsbeampte Mandisa Sikakane gefasiliteer is. In haar verklaring het die klaagster gesê dat sy sedert die voorval deur haar familie verstoot is. Sy het gesê dat sy in vrees leef en haar waardigheid verloor het.
Met die vonnisoplegging van Mkhwanazi het die hof albei aanklagte as een beskou vir die doel van vonnisoplegging en hy is effektiewe 10 jaar gevangenisstraf opgelê. Hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het hierdie suksesvolle vervolging verwelkom.
“Staatsamptenare het ’n plig om burgers te beskerm en hulle nie uit te buit nie. Die beampte in hierdie geval het sy posisie benut. Ons hoop dat gevalle soos hierdie individue sal afskrik. Welgedaan aan die aanklaer en kollegas van die SAPD wat bygedra het tot die sukses van die saak,” sê Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die NVG in KwaZulu-Natal.