Pad na die kroon: Chantell Davis aangewys as ’n Mev Suid-Afrika 2023 semi-finalis
Chantell Davis, bekende skrywer en motiveringsspreker, kan nou Mev Suid-Afrika semi-finalis vir 2023, by haar alreeds indrukwekkende CV voeg.
Davis het Vrydag 3 Februarie die goeie nuus ontvang ná die Nasionale- keuringsgeleentheid by Emperors Palace, in Johannesburg. Ná die aankondiging het die semi-finaliste deelgeneem aan ‘n propvol tweedagkonferensie gevul met motiveringspraatjies, werkswinkels, opleidingsessies, kuier- en netwerkgeleenthede, asook ‘n inleiding tot die bekende Mev SA-susterskap.
“Ek was oorstelp en gevul met ‘n diepe gevoel van dankbaarheid met die aanhoor van die ongelooflike nuus” sê Davis.
Mev Suid-Afrika is grootliks ‘n program van selfontdekking en bemagtiging, wat diversiteit, ambisie en selfvertroue verkondig. Dit gee aan van die land se mees fenomenale en talentvolle vroue, die vaardighede en gereedskap, wat nodig is, om hul drome te verwesenlik.
Joani Johnson, uitvoerende hoof van Mev SA, sê: “Ons is trots om saam met soveel sterk, formidabele en inspirerende vroue te werk, en om hulle te bemagtig as pilare van ons gemeenskap, om hulle te lei tot selfontwikkeling en die geleentheid te bied om te kan netwerk om die leiers en sosiale rolspelers te wees wat ons in hierdie land nodig het.
“Ons ervare mentors onderrig die semi-finaliste, in leierskap, entrepreneurskap, bemarking, selfbevordering en selfontdekking deur die jaar om te verseker dat alle deelnemers ‘n werklike lewensveranderende ervaring het.”
Davis deel meer oor haar besluit om deel te neem, en sê: “Ek het eens ‘n lewe geleef wat geteister was deur vrees, verwarring en verwerping, en myself voortdurend met ander vergelyk. Deur jare van persoonlike groei en innerlike genesing het ek egter my ware identiteit en lewensdoel ontdek. As vrou, ma van vier, wat ‘n superfetasie tweeling insluit, asook ‘n vrou in die bediening, is ek nou passievol toegewyd daaraan om hoop en bemoediging aan alle Suid- Afrikaners te bring as ‘n stem van inspirasie.”
“Geen meer boksies of etikette nie – dit is tyd om los te breek van die beperkings van die samelewing se verwagtinge. Loop nou doelgerig jou lewenspad!”, het Davis bygevoeg. As deel van haar reis hoop sy ook om bewustheid te kweek oor “PCOS” (polisistiese ovariumsindroom), sowel as die impak daarvan op vroue se lewenskwaliteit.
“Ons is verstom oor die aantal inskrywings van hoë gehalte wat ons vanjaar ontvang het, en ons is baie dankbaar dat ons soveel wonderlike vroue uit alle sfere van die samelewing ontmoet het. Die Nasionale Keuringsdag was buitengewoon moeilik, aangesien ‘n aansienlike aantal deelnemers die eienskappe besit wat nodig is om ‘n sukses van hierdie program te maak,” sê Johnson.
Vanjaar was die keuringspaneel op soek na vroue wat ‘n groot passie vir bemagtiging het, wie sterk gesinswaardes vertoon en passievol daaroor is om ‘n verskil in hul gemeenskap en die wêreld te maak.
“Davis vergestalt ten volle die waardes wat Mev SA die beste ag, en is verteenwoordigend van ons hutsmerk vir die jaar: #EveryWoman. Ons sien daarna uit om saam met haar en haar medesusters op hierdie reis te gaan,” sluit Johnson af.