Ondersoek van stapel gestuur ná video van vuisgeveg by Hoërskool Brits
Hoërskool Brits in Noordwes het aan AfriNUUS bevestig dat ’n vuisgeveg, wat op video vasgevang is, tussen twee skoolleerders op die skoolterrein ondersoek word.
In ’n video wat op sosiale media versprei word, kan gesien word hoe een leerder teen die grond neergedruk word en met die vuis bygekom word.
By navraag, het die skool bevestig dat die “geweldadige optrede” ten sterkste veroordeel word.
Elias Malindi, woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, het aan AfriNUUS bevestig dat die voorval Dinsdag, 7 Februarie plaasgevind het.
“As departement is ons bewus van die voorval. Dit het op 7 Februarie gebeur toe die skool uit was, maar gelukkig was daar 3 personeellede wat op die toneel was. Hulle het daarin geslaag om die binnegevegte te stop en die beseerde leerder vir mediese hulp geneem. Die vermeende oortreder is na die dissiplinêre hoof geneem,” sê Malindi.
“Tans is die vermeende oortreder geskors, terwyl die dissiplinêre saak aan die gang is. Die departement veroordeel enige vorm van afknouery in skole.”
Volgens Dirk Enslin, voorsitter van die skool se beheerlliggaam, is ’n interne proses van stapel gestuur, waarna ’n dissiplinêre optrede gevolg sal word.
Die skool het verder versoek dat die video nie versprei word nie, aangesien die skool reeds die saak ondersoek.
Die skool het verder bevestig dat ’n kundige persoon die skool in ‘n byeenkoms sal toespraak oor geslagsgeweld, diskriminasie en enige ander vorm van onvanpaste optrede.