Vier mense is Sondagoggend om 00:45 by KwaZakhele in Gqeberha in die Oos-Kaap doodgeskiet en twee ander gewond.

Dit volg twee weke nadat agt mense deur twee gewapende mans by ’n verjaarsdagviering in dieselfde area doodgeskiet is.

Kolonel Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het in ’n verklaring gesê dat die voorval om 00:45 plaasgevind het.

Volgens Naidu is ’n polisievoertuig deur ’n vrou voorgekeer wat gesê het dat onbekende mans op haar en ander geskiet het.

“Daar word beweer dat ongeveer 11 mense, ses vroue en vyf mans, by die huis gedrink en hulself geniet het toe drie onbekende mans ingekom en op hulle begin skiet het,” het Naidu gesê.

Drie vroue, tussen 20 en 25 jaar oud, en die 28-jarige manlike huiseienaar is noodlottig gewond, terwyl drie mense skietwonde opgedoen het en na die hospitaal geneem is vir behandeling.

Die oorblywende vier, twee mans en twee vroue, het ongedeerd daarvan afgekom.

Die motief vir die skietery is in dié stadium onbekend en die naasbestaandes van die oorledenes word nog opgespoor en om hul identiteit vas te stel.

“Die Provinsiale Georganiseerde Misdaad-ondersoekeenheid in Gqeberha ondersoek ’n saak van vier aanklagte van moord en sewe aanklagte van poging tot moord,” het Naidu gesê.