“Ma, ek weet ons kan dit verslaan,” sê 16-jarige Layton ná skokkende fase 4-kanker diagnose
“Ma, ek weet ons kan dit verslaan.”
Só het die 16-jarige Layton Deakin Geanokopoulos van Benoni, Gauteng, gesê, nadat hy in September 2022 met Ewing-sarkoom – ’n seldsame beenkanker – gediagnoseer is.
Layton word uiteindelik binne die volgende twee weke ontslaan, nadat hy laasjaar met sy chemobehandeling by die Wits Donald Gordon-hospitaal in Johannesburg begin het.
Hy het in September laasjaar uitgevind dat hy met ’n aggressiewe fase 4-kanker gediagnoseer is, nadat hy na die dokter was omdat sy been erg begin opswel het. Dokters het bevestig dat die 16-jarige seun ’n 14cm gewas op sy linkerbeen het, sowel as gewasse op sy long, in sy maag en op sy lewer.
Hy het daarna met sy kankerstryd begin en is in die hospitaal opgeneem.
“Layton se geloof is so sterk,” vertel Michele Geanokopoulos, Layton se ma, egter. “Sy ouma, Sito Sarah, wat twee jaar gelede oorlede is, het daarin geslaag om albei my seuns (Layton en sy 9-jarige broer Brogan) se geloof op die regte pad te kry. Ons is so dankbaar daarvoor.”
Nou bid Layton se gesin net vir wonderwerke en sy spoedige herstel.
Hy het vandeesweek ’n operasie, wat 20 ure geduur het, ondergaan om die gewas op sy been te probeer krimp. Sy fibula is in sy bobeen oorgeplant.
Hy het egter bedsere met sy tyd in die hospitaal, wat meer as vier maande is, opgedoen.
“Hy het nou reeds 9 chemoterapiesessies ondergaan. ’n Vollyfskandering is weer gedoen en hy het so goed gevaar met die chemoterapiesessies. Alle gewasse het met 50% of meer gekrimp,” vertel Michele.
“Hy het die afgelope tyd baie pyn gehad en het gereeld opgegooi,” vertel Casta McCullough, Layton se tannie. “Die proses het ook ’n emosionele impak op hom gehad wat tot depressie gelei het.”
“Layton veg vir sy lewe. Sy ma en pa moet aan sy sy wees, maar ongelukkig kan hulle nie, want hulle moet voltyds werk.”
“Baie mense het gevra hoe hulle kan help of wat hulle kan doen. Met so ’n lang behandelingsplan sal mediese uitgawes ’n direkte koste wees, en skenkings sal vir mediese uitgawes/nodige behandelingskoste vir Layton gaan,” vertel Casta.
“Michele is hartseer. Sy veg hard vir Layton en waardeer al die gebede en emosionele ondersteuning van familie en vriende. Layton is ’n ongelooflike seun wat sy diagnose met merkwaardige krag en moed hanteer,” vertel Casta.
“Net die herstelproses neem baie lank,” vertel Michele. “Ek het daarin geslaag om met familie en vriende te reël om te help wanneer hy in die volgende 2 weke by die huis kom. Hulle sal na hom omsien terwyl ek en sy pa gaan werk. My suster vlieg in April van Australië af om ook na hom om te sien.”
Volgens sy tannie van Australië, Denise Mccullough, bied die Suid-Afrikaanse regering egter min hulp.
Daar is reeds R24 686,42 deur GoFundMe vir Layton se mediese onkostes ingesamel. Die teiken is egter R247 482,91 op die blad.
Jy kan hier klik indien jy enige skenkings wil maak of meer wil uitvind oor Layton se kankerstryd.
Ewing-sarkoom is ’n seldsame kanker wat gewoonlik in die been, of sagte weefsel rondom bene, voorkom. Dit kom gewoonlik by jong kinders of jong volwassenes voor.