Die Stad Kaapstad sê geen bewyse dui op beurtkrag as ’n oorsaak vir die brand nie, maar maan inwoners om elektroniese toestelle gedurende hierdie tye af te skakel.

Deur Sandiso Phaliso (GroundUp)

Meer as 300 mense is haweloos nadat ’n brand Woensdagmiddag hul plakkershutte by die Never-Never informele nedersetting in Philippi-Oos, Kaapstad, verwoes het.

Inwoners glo dat beurtkrag die oorsaak van die brand is, maar brand- en reddingsdienste sê daar is nie genoeg bewyse om dit aan te dui nie. Geen beserings is aangemeld nie.

Die brandslagoffers het gesê hulle het hul besittings, insluitend ID’s, paspoorte, skoolskryfbehoeftes en uniform, sowel as al hul meubels, verloor.

Thumeka Mninzi het gesê sy het van die werk af teruggekeer om haar huis heeltemal vernietig te vind. “Al wat ek oor het, is wat ek aanhet. Ek weet nie hoe ek weer gaan begin nie. Hierdie brand is verwoestend,” het sy gesê.

Meer as 300 mense is haweloos nadat ‘n brand hul plakkershutte by Never-Never informele nedersetting in Philippi-Oos, Kaapstad Woensdag om 16:20 vernietig het. Foto’s: Sandiso Phaliso

Lungelo Lisa het gesê: “As dit nie vir beurtkrag was nie, sou ons nie sonder ons huise gewees het nie. Een van ons bure het ’n stoof aangelos terwyl hy kook toe beurtkrag begin het. Toe die elektrisiteit weer aankom, was die stoof aan en ’n brand het ontstaan.”

Die polisie het al ons vrae oor die brand na die Stad Kaapstad verwys.

Charlotte Powell, woordvoerder van stad se rampbestuursentrum, het aan GroundUp gesê die brand het 130 wonings vernietig en 333 mense is geraak.

Jermaine Carelse, woordvoerder van Brand- en Reddingsdiens, het gesê hulle het die oproep om 16:20 ontvang en brandbestryders het eers om 22:00 daarin geslaag om die brand te blus. Hy het gesê daar is geen bewyse dat beurtkrag die brand veroorsaak het nie, maar het inwoners versoek om versigtig te wees en te verseker dat hul toestelle gedurende hierdie tye afgeskakel is.

Never-Never-inwoners pleit nou by die regering om hulle te verskuif omdat die gebied oorvol is en daar geen formele paaie of stormwaterafvoer is nie. Die enigste gemeenskaplike sanitasiegeriewe is waterkrane en toilette.

Die berig is oorspronklik deur GroundUp gepubliseer en met vergunning hier geplaas. Jy kan die berig op GroundUp lees deur hier te klik.