Die kommunikasiewerkersvakbond CWU sê die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO) beplan om sowat 6 000 werkers af te lê. Dit volg nadat die entiteit ’n verlies van R2,3 miljard in 2020/21-boekjaar gely het. 

Die CWU se hoofsekretaris, Aubrey Tshabalala, sê die kennisgewing kom ’n week nadat die maatskappy ’n vergadering met vakbonde belê het om die 40%-salarisverlagings of die verminderde aantal werksure met alle belanghebbendes teenwoordig bespreek het.

“Die Poskantoor het ’n bom op die CWU laat val deur ‘n kennisgewing ingevolge Artikel 189 en 189(A) te gee, wat beteken hy beoog om 6 000 werkers af te lê. Die maatskappy het egter versuim om by sy eie prosesse te hou waar sulke sake by die bedingingskamer met alle sleutelbelanghebbendes bespreek moet of kan word,” het die vakbond gesê.