Ridwaan Smith, DA-raadslid in die Emthanjeni-munisipaliteit, sê inwoners van De Aar is toenemend kwesbaar vir misdaad aangesien die polisie steeds beurtkrag blameer vir hul nie-operasionele 10111-telefoonlyn.

Die gratis noodlyn is al amper ses maande lank buite werking. 

’n Alternatiewe selfoonnommer word tans deur die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gebruik, maar dit dra tot ekstra kostes vir plaaslike inwoners by. Baie inwoners kan ook nie lugtyd bekostig nie en word dikwels gedurende noodsituasies weerloos gelaat omdat hulle nie die polisie kan kontak nie.

“As SAPD-lede nie eers oproepe van die publiek kan ontvang nie, hoe kan hulle inwoners beskerm en misdaad effektief bekamp? Die stukkende noodnommer ondersteun egter misdadigers en kan selfs tot onnodige lewensverlies lei,” meen Smith.

:Die Demokratiese Alliansie (DA) het die De Aar-polisiekantoor besoek om te probeer vasstel wat die probleem is. Tydens gesprekke met polisiebeamptes is ek ingelig dat die lyn weens weens beurtkrag buite werking is. Dit verduidelik egter nie waarom die 10111-lyn ook nie werk as die krag wel aan is nie. Dit wil voorkom asof beurtkrag as ‘n sondebok vir die polisiestasie se eie mislukkings gebruik word,” voeg Smith by. “Ek het met die stasiebevelvoerder vergader en ’n formele klagte by haar ingedien ten opsigte van die wanfunksionele noodnommer.”

Die DA se provinsiale woordvoerder van veiligheid ondersoek ook wanfunksionele noodnommers in die provinsie. 

Hy sal parlementêre vrae indien om vas te stel wat die impak van beurtkrag op die noodnommers is, hoe wydverspreid die probleem is, hoe die SAPD die situasie probeer beredder, watter ander faktore bydrae tot wanfunksionele telefoonlyne en wat die polisie doen om hierdie kritieke tekort in polisiëring aan te spreek.

“As SAPD werklik omgee vir die veiligheid van De Aar-inwoners, sal hulle ophou om telefoontjie te speel en eerder verseker dat hulle maklik en vrylik toeganklik aan die gemeenskap is om hulle te kan beskerm, misdaad te bekamp en misdadigers vas te trek,” sluit Smith af.