Dr Leon Schreiber, DA-kiesafdelingshoof in Stellenbosch, sê die party is ontsteld dat verskeie koshuise aan die Universiteit Stellenbosch glo weer ’n wydverspreide verbod op selfs die informele gebruik van Afrikaans tydens die universiteit se verwelkomingstydperk ingestel het.

“Die inligting in die DA se besit dui daarop dat hierdie jongste verbod op Afrikaans selfs meer sistematies is as die een wat koshuise gedurende 2021 geïmplementeer het, toe studente verbied is om Afrikaans in hul kamers, op kampus en selfs op parkbanke te praat,” sê dr Schreiber.

“In wat blykbaar ’n standaard bedryfsprosedure oor die kampus heen geword het, word groepe studente wat in Afrikaans praat – selfs wanneer almal in die groep Afrikaans praat – nou opdrag gegee om na Engels oor te skakel,” voeg dr Schreiber by.

“Afrikaanse studente word deur sogenaamde studenteleiers by koshuise geïntimideer en is ook aangemeld in ’n reeks beëdigde verklarings wat tans deur die studente-organisasie StudentePlein saamgestel word,” meen dr Schreiber.

“Dit blyk ook dat die universiteitsbestuur medepligtig is aan hierdie oortredings, aangesien hulle tot op hede nie eens die moeite gedoen het om die oortredings te erken nie en heeltemal versuim het om stappe te neem om die regte op taal, waardigheid en kulturele assosiasie van nie-Engelssprekende studente te beskerm,” sê dr Schreiber.

In reaksie op hierdie jongste skandaal het die DA reeds aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) geskryf en geëis dat sy verslag onmiddellik bekend gemaak word oor die klag wat die DA gelê het toe die informele gebruik van Afrikaans vir die eerste keer deur die universiteit in 2021 verbied is.

“As gevolg van die DA se klagte het die MRK ’n reeks verhore oor die verbod op Afrikaans by die universiteit in 2021 gehou. Die DA het die MRK se tussentydse verslag oor hierdie aangeleentheid onder oë gehad en ons eis dat die volledige en ongeredigeerde verslag onmiddellik aan die publiek vrygestel word,” sê dr Schreiber. 

“Aangesien die universiteit nie net versuim het om op te tree teen die skending van taalregte ná die 2021-voorvalle nie, maar dat hy nou oënskynlik sy verbod op Afrikaans verskerp het, is dit nie in die belang van geregtigheid dat die MRK-verslag oor die oorspronklike skendings langer vertraag moet word nie.”

Die DA sal voortgaan om die stryd in die Parlement te lei om die regte van die sprekers van inheemse tale te beskerm, soos in die Grondwet uiteengesit.

AfriNUUS het uitgereik na Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch, vir ’n verklaring deur die universiteit oor die bewerings. Meer inligting sal bygewerk word, sodra/indien dit ontvang word.