Afrika-perdesiekte saai verwoesting in dele van die Oos-Kaap – berigte
Afrika-perdesiekte wat die eerste keer byna 800 jaar gelede geïdentifiseer is, het honderde duisende perde doodgemaak.
’n Uitbraak van die Afrika-perdesiekte (AHS) het ’n verwoestende uitwerking in dele van die Oos-Kaap, veral in die Mthatha-omgewing, waar meer as 120 perde glo sedert Desember gevrek het, berig HeraldLIVE.
Eienaars en telers het aan die nuusdiens gesê dat hulle bewus was van ’n kommerwekkende aantal perde-, donkies- en muilesterftes weens die virussiekte.
Hulle het gesê ’n ernstige tekort aan die enigste Afrika-perdesiekte-entstof wat in Suid-Afrika beskikbaar is, vererger die probleem.
Die Suid-Afrikaanse Perdry-federasie (SAEF) se Veterinêre Komitee het in ’n verklaring laasweek gesê dat dit bewus is daarvan dat die beskikbaarheid van AHS-entstof vanjaar “baie wisselvallig” was.
“Daar is steeds veeartse wat wag vir hul bestellings, sodat hulle hul kliënte se perde kan inent. Daar is geen patroon vir die aflewering nie, en ten spyte van talle pogings deur verskeie organisasies om met die Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) te skakel, is min of geen inligting beskikbaar nie,” lui die verklaring.
“Die SAEF het dus besluit om die inentingsprogram op AHS verder uit te brei na die 31ste Oktober 2023. Dit beteken dat perde vir kompetisiedoeleindes een AHS 1-entstof en een AHS 2-entstof tussen 1 Junie 2021 en 31 Oktober 2023 moet ontvang het. Hierdie inentingsprogram is nie van toepassing vir perde wat in die beheerde gebied van die Wes-Kaap woon nie,” lui die verklaring verder.
Inentings buite die 1 Junie tot 31 Oktober-tydperk in alle gebiede van die land, buite die AHS-beheerde gebied, bly ’n aanbeveling eerder as ‘n wet vir die AHS-besmette gebied van land.
“My eie perd perd het gruwelike mishandeling gely voor sy redding. Hy was uitgehonger en het derde graadse brandwonde opgedoen. As ’n perde-eienaar is ek elke jaar bekommerd dat my skouperd wat die ergste seer oorleef het, in gevaar is, ten spyte van sy inenting, en ten spyte van die bedrag wat ek bestee het op spesiale insekbespuitings en bespuitings vir sy stal,” het ’n perde-eienaar, Lins Rautenbach, aan AfriNUUS gesê.
“Daar is ook amper geen dryfkrag of inisiatief om die entstofveldtogte in landelike en laerinkomstegebiede uit te voer nie. Dit help nie regtig dat diegene met die middele om in te ent dit jaarliks doen nie, maar hulle word omring deur ’n baie groot plattelandse bevolking wat nie die middele het nie. Dit word deur ’n insek gedra, en as ’n besmette perd gebyt word en daardie selfde insek vlieg in ’n erf en byt ’n ingeënte perd, kan die perd steeds siek word. Om in te ent is wet, maar baie min word gedoen om daardie wet te handhaaf en dit van die grond af te kry,” voeg Rautenbach by.
“Baie min navorsing of verbetering is gedoen. Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het ’n beter entstof ontwikkel wat baie doeltreffender is, maar in Suid-Afrika het ons ‘n sekere een wat “herken” word. Wat baie min mense weet is dat honde die Afrika-perdesiekte kan kry,” voeg Rautenbach by.
AfriNUUS het uitgereik na die Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vir meer inligting.