Aardbewing in Turkye en Sirië: Dodetal styg tot bo 33 000, terwyl Turkse regering begin met regstappe
Die aantal mense wat dood is nadat ’n aardbewing vandeesweek dele van die Turkye en Sirië getref het, het teen Sondagaand 33 000 oorskry.
Die dodetal is 29 695 in Turkye, terwyl meer as 3 500 in Sirië dood is. Honderde duisende mense is haweloos gelaat in die middel van die winter.
Reddingswerkers het Sondag meer oorlewendes uit die puin gehaal, byna ’n week ná een van die ergste aardbewings wat Turkye en Sirië getref het.
Dit terwyl Turkse owerhede probeer het om orde oor die rampgebied te handhaaf en met regstappe begin het teen eienaars van geboue wat ineengestort het, berig Reuters.
Dit was die dodelikste aardbewing in Turkye sedert 1939, toe 32 968 mense dood is.